Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 8 NOVEMBER 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web by www.sarl.org.za. Klik op ‘ARMI’ en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325; 14,235; 10,130; 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 52,750; 438,825 en 1,297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat die afsterwe van Arthur Ronald Hersey op 6 November 2009 aangekondig word. Arthur het in 1938 op ouderdom 16 gekwalifiseer as ’n radioamateur met die roepsein ZS1RS.

Ons betuig ons innige meegevoel aan sy seun John, familie en vriende.

POUSE

In die nuus vandag:

PRET MET SATELLIETE

NUWE BACAR WORD GEDEMONSTREER

RAE-UITSLAE BINNEKORT BESKIKBAAR

RADIOAMATEUR WEN ’n NOBELPRYS

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

NOORDWES AMATEURRADIOKLUB BEDRYF ZS10WCS

Die Noordwes Amateurradioklub bedryf dié spesiale stasie, ZS10WCS, gedurende November. Die Boland Amateurradioklub het in September goed begin toe hulle 2 639 kontakte met amateurs in meer as 100 lande gemaak het. Die Oakdale Radioklub het die stasie gedurende Oktober bedryf, maar dit is nog nie seker hoeveel kontakte gemaak is nie. In Desember sal lede van die Oosrand Radioklub ZS10WCS bedryf.
Die voorkeurfrekwensies is soos volg: GG op 28 010; 21 010; 14 010; 7 010 en 3 510 kHz. ESB op 28 480; 21 280; 14 180; 7 080 en 3 780 kHz.
QSL via die Buro of direk via SARL, Posbus 1721, Strubensvallei, 1735.

PRET MET SATELLIETE

AMSAT het ’n satelliet-aktiwiteitsnaweek vir 13 tot 15 November 2009 gereël en radioamateurs word genooi om logstate in te dien. Die doel met die geleentheid is om nuwe operateurs aan te moedig om aan te sluit by die groeiende groep belangstellendes in amateurradiosatelliete. AMSAT Noord-Amerika het spesiaal gereël vir hoër krag op die QRP-modus op AO-51, sodat werking op die satelliet makliker kan wees vir die nuwelinge.
Die geleentheid sal op die lug wees vanaf 16:00 UTC op Vrydag 13 November 2009 tot 16:00 UTC op Sondag 15 November 2009. Werking is toelaatbaar op enige aktiewe radioamateursatelliet – op enige modus – om in aanmerking te kom vir punte. Die voorbehoud is dat QSO’s met AO-51 in die QRP-V/U modus moet wees (145,880 MHz opskakel en 435,150 MHz afskakel).
RF Design borg ’n prys van ’n TinyTrak 4 vir die operateur wat die meeste punte verdien en ’n TinyTak3 vir die beste draagbare stasie. Indien dit dieselfde operateur is, sal die TinyTrak3 aan die operateur met die tweede hoogste punte toegeken word.
Volle besonderhede kan by www.amsatsa.org.za besigtig word.

NUWE BACAR WORD GEDEMONSTREER

Op Saterdag 21 November om 14:00 sal John Willescroft, ZS6EF, die 2010-weergawe van BACAR by die Nasionale Amateurradiosentrum demonstreer. Hierdie BACAR sal op Sondag 24 Januarie sy nooiensvlug in die Wes-Kaap onderneem. BACAR is die akroniem vir “Balloon Carrying Amateur Radio”; ’n projek wat in die sewentigerjare vir die eerste keer deur SA AMSAT van stapel gestuur is.
BACAR sal gedemonstreer word terwyl dit aan ’n kabel vas is. Radioamateurs wat nie vir die demonstrasie by die NARS kan wees nie, kan dit op die web volg. Meer besonderhede volg in volgende week se SARL-nuus. U kan meer detail verkry by www.amsatsa.org.za.
Die demonstrasie sal volg na die eerste tuiskonstruksiekursus by die NARS, wat reeds volbespreek is. Name word ook nou ingesamel vir ’n moontlike tweede reeks van tuiskonstruksiekursusse volgende jaar.
Daar is nog plekke oop op die Durban-, Port Elizabeth- en Kaapstadkursusse. ’n Lys van persone wat bespreek het, en bevestig is, is beskikbaar op die SARL-webwerf by www.sarl.org.za. Klik op RTA onder die hoof “Activities” en volg die skakels.

RAE-UITSLAE BINNEKORT BESKIKBAAR

Die langverwagte RAE-uitslae sal binne die volgende paar dae bekend gemaak word.
Sedert die laaste RAE is ’n paar dinge verander om OKOSA te help met die bykomende administratiewe werk. Die veranderings is soos volg:
Gewoonlik sou ons roepseine vir die RAE-kandidate voor die tyd reserveer. Kandidate wat die Klas A-eksamen geskryf het, het ook die geleentheid gehad om die Klas B-eksamen te skryf. Wanneer al die vraestelle gemerk en gemodereer is, sou ons ’n lys terugstuur na OKOSA en vra dat hulle alle gereserveerde roepseine vir kandidate wat gedruip het moet ophef. Hulle is dan voorts versoek om die roepseine van dié kandidate wat die Klas A-eksamen gedruip het op te hef, maar dié wat Klas B geslaag se roepsein te reserveer vir ’n Klas B-roepsein. Dit het baie addisionele werk meegebring vir die personeel wat met radiolisensies werk – baie dubbele werk is ook gedoen.
Die nuwe prosedure behels dat wanneer die vraestelle klaar gemerk is, die roepseine deurgestuur word vir reservering – vir die kandidate wat die eksamen geslaag het. Ons wil graag alle kandidate aanmoedig om gereeld die SARL-web dop te hou die uitslae. Dankie vir u geduld.
Indien u enige navrae het, kan u Mariska by die SARL-kantoor skakel by 011 675 2393 of stuur vir haar e-pos na admin@sarl.org.za.

RADIOAMATEUR WEN ’n NOBELPRYS

Om 05:30 op die oggend van 6 Oktober, het George E Smith, AA2EJ,van Barnegat, New Jersey, ’n telefoonoproep ontvang wat sy lewe dramaties verander het. Hy het gehoor dat hy die 2009-Nobelprys vir Fisika gewen het vir die ontdekking van ’n nuwe halfgeleierkringloop – die CCD-sensor. Smith sal die prys met twee ander ontvangers deel: Charles K Kao, van die Standard Telecommunication Laboratories in die Verenigde Koninkryk en die Sjinese Universiteit van Hongkong, asook Willard S Boyle, van Bell Laboratories. Elke ontvanger sal ’n diploma, ’n medalje en ’n 25% deel van die R10 miljoen-prysgeld ontvang.
Kao het erkenning van die pryskomitee ontvang vir sy deurslaggewende prestasies oor die geleiding van lig in optiese veselglaskommunikasie. Sy ontdekkings het die weg gebaan vir optiese veseltegnologie, wat gebruik word deur bykans alle betrokkenes by moderne telefonie- en datakommunikasie. Boyle en Smith het ’n digitale beeldsensor ontwerp – die CCD – wat die elektroniese ‘oog’ in bykans alle fasette van fotografie geword het.
Die CCD –is in ongeveer een uur oor middagete ontwerp – toe Smith en Boyle by Bell Labs in New Jersey gewerk het. Dit was, volgens Wired Magazine, die eerste praktiese manier om ’n beeld op ’n ligsensitiewe silikonskyfie te stoor en dan na ‘n digitale vorm om te skakel. Kortom gestel is dit die basis van die digitale kamera van vandag. Volgens Wired is die verbasende feit van die ontdekking die kort tydjie waarin Boyle en Smith met die ontwerp vorendag gekom het. Met Bell Labs wat gedreig het om befondsing van hulle departement weg te neem en na ander navorsing toe te ken, moes Boyle ’n kompeterende halfgeleier vinnig ontwerp. Hy en Smith het saamgewerk en binne ’n uur het hulle met die idee na vore gekom en dit op ’n swartbord geteken.
"Een oggend in Oktober 1969," skryf Boyle op sy webwerf, "is ek uitgedaag om ’n nuwe soort rekenaargeheue te skep. Die middag het ek en George Smith bymekaargekom en vir ’n uur lank ’n dinkskrum gehou oor ’n nuwe tipe halfgeleier, met sketse en formules op ’n swartbord. Ons het dit ’n “charge-coupled device” – ’n CCD genoem. Toe ons die werkswinkel by Bell Labs vra om die toestel te bou, het dit gewerk soos verwag – tot ons kollegas se verbasing.”
Smith het gesę hy weet die CCD was onder oorweging vir die Nobelprys, "maar ons het nie geweet of, en wanneer dit sou gebeur nie. Navorsing waarvoor die Nobelprys toegeken word, is gewoonlik baie jare se voortdurende werk. In my geval is dit 40 jaar se navorsing. Die Pryskomitee maak seker dat die navorsing die toets van die tyd slaag.”
Luister na Amateur Radio Mirror International later vandag, vir meer besonderhede.

GROOT PRESTASIE DEUR ZS4JAN.

Gedurende die afgelope maand het Jan Botha, ZS4JAN, die uitsonderlike prestasie behaal om die WAZS 1 000 sertifikaat van die SARL te verwerf. Dit beteken dat Jan 1 000 bevestigde kontakte met individuele roepseine in Suid-Afrika verwerf het. Dit het Jan bykans 6 jaar geneem om hierdie mylpaal te behaal.
Wat die prestasie meer uniek maak is die feit dat Jan die eerste amateur is wat die WAZS 1 000 behaal.
Die President van die SARL wens Jan hiermee geluk met hierdie besonderse prestasie en vertrou dat dit 'n inspirasie vir ander amateurs sal wees om ook meer aktief op die bande te wees en gereeld die kontakte met behulp van 'n QSL-kaart of die SARL se SA-QSL-stelsel te bevestig.
Nogmaals baie geluk aan Jan.

JAARLIKSE HERDENKINGSDIENS

Die jaarlikse herdenkingsdiens sal in vandag se ARMI-program vanaf 10:45 uitgesaai word. Die diens is ter nagedagtenis van Suid-Afrikaners wat hulle lewens opgeoffer het ter beskerming van ons land en sy bevolking. Handhaaf asb. radiostilte tussen 10:45 en 11:00 as ’n gebaar van respek. Die diens sal deur Ds. Hannes Enslin, ZS6JDE, waargeneem word.

KOMPETISIENUUS

Die tweede been van die SARL-HF-velddag word oor die naweek van 21 en 22 November gehou met foon- en GG-aktiwiteit op 10 tot 160 meter.

Die kompetisiekomitee het die uitslae van die tweede been van die SARL-80 m QSO-kompetisie bekendgemaak.

1e Jan Botha, ZS4JAN, 630 punte;
2e Charles le Roux, ZS1CF, 415;
3e Theuns Potgieter, ZS2EC, 265;
4e Sasolburg ARK, ZS4SRK, 255;
5e Geoff Levey, ZS6GRL, 230 punte, en
6e Die Węreldbekersokkerstasie, ZS10WCS, bedryf deur Dave, ZS1SG, 205 punte.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Daar was gedurende die week geen sonvlekke sigbaar nie.
20- en 40 m is die beste keuses vir DX. Gedurende die middae gaan die toestande na die ooste en die weste goed wees. Gedurende laatmiddae en in die aande gaan toestande na Europa goed wees. In die oggende is daar moontlike kanse om kontakte met Australië op 20 m te maak. Kontakte met Nieu-Seeland gaan uitdagend wees. Daar is ook 'n moontlikheid van 20 en 15 m-kontakte met Brasilië gedurende die laatmiddae en vroeë aande. Gedurende die middae is daar 'n goeie kans vir 15 m-kontakte met die VSA.
Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate oor die langer afstande lewer. 20 m begin weer om van sy glorie te herwin en daar kan goeie kontakte tussen afdelings 1 en 6 gemaak word. Saans is 80 m die beste keuse.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

8 November – Herdenkingsdiens vanoggend om 10:45 tydens ARMI-program;
9 November – sluitingsdatum vir Radio ZS-artikels;
13 tot 15 November – Satellietaktiwiteitsnaweek;
15 November – sluitingsdatum vir die 2010-kompetisievoorstelle;
21 en 22 November – die SARL HF-velddag;
21 November – Tuiskonstruksiekursus en BACAR-demonstrasie in Gauteng by die NARS;
22 November – Integnet met SumbandilaSat as tema;
30 November – sluitingsdatum vir die opstelkompetisie en sluitingsdatum vir die SARL-raad se nominasies.

SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.
Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n ‘Podcast’-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostroming en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, saamgestel is. Die redakteur was Jannie, ZR6PHD.
Dankie, dat u geluister het, 73.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003